Local newsNews

Burgerlike samelewing moet versterk word

Die burgerregte-inisiatief, AfriForum, sê die feit dat die ANC weer meer as 60 persent van die stemme tydens die verkiesing behaal het, beklemtoon die noodsaak vir sterk burgerlike organisasies wat die regerende party buite die partypolitiek verantwoordbaar kan hou.

Volgens uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel, het burgerlike organisasies vanuit minderheidsgemeenskappe veral nou ook ‘n belangrike waghondfunksie om te vervul om minderhede se belange te beskerm.

“Eerder as om ná elke verkiesing opnuut teleurgesteld te wees, moet minderheidsgemeenskappe daarvan kennis neem dat hulle belange weens die demografie van die land nooit hoog op enige meerderheidsparty se agenda sal wees nie, en dat hulle gevolglik nie al hulle hoop vir die toekoms op verkiesings moet plaas nie,” sê Kriel.

Hierdie stelling beteken volgens Kriel glad nie dat verkiesing of die belangrike werk van opposisiepartye nie saak maak nie. Dit is eerder ‘n wekroep dat minderhede self baie meer moet doen om ‘n sinvolle toekoms te verseker as bloot om elke vyf jaar ‘n kruisie te trek.

Minderhede sal volgens Kriel opnuut self verantwoordelikheid vir hulle toekoms moet neem, deur hulle kragte saam te snoer in sterk, selfstandige burgerlike instellings van hulle keuse, wat ook buite die partypolitiek op elke lewensterrein werk vir ‘n beter toekoms.

“Dit is bevrydend om self skouer aan die wiel te kan sit met projekte wat selfstandig uitgevoer kan word, sodat jy nie aan die genade van eenparty-oorheersde owerheid uitgelewer is nie.”

Volgens Kriel, sluit voorbeelde van hierdie soort selfstandigheidsaksies verskeie projekte in waar plaaslike gemeenskappe self stappe doen om hulle lewensomstandighede te verbeter.

“Wat nou nodig is, is dat minderhede hulself nie slagoffers van die onlangse geskiedenis of die verkiesingsuitslag maak nie, maar eerder betrokke raak by selfstandigheidsprojekte of steun te verleen aan die burgerlike instellings van hul keuse.”

Duisende mense wat elk in hulle onderskeie gemeenskappe iets doen om te help om ‘n beter toekoms te skep, lewer volgens Kriel saam ‘n reusebydrae en geen konstruktiewe bydrae is te klein om ‘n verskil te maak nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button