Wen ‘n kopie van Krokodil aan my skouer
Krokodil aan my skouer is Christiaan Bakkes se boeiende verhaal oor sy vroeë vormingsjare.

Resensent: Ischke de Jager.
Boek: Krokodil aan my skouer: Stoffel toe en nou.
Skrywer: Christiaan Bakkes.
Uitgewer: NB-Uitgewers, Human en Rousseau
Beoordeling: ‘n Humoristiese vertelling van Stoffel Mathysen se jaar op grensdiens en opleiding as veldwagter.
In ses bundels sedert 1998, het lesers hom leer ken deur sy Stoffel Mathysen-persona.
Vandag is hy bekend as ‘n gesogte safarigids en gerespekteerde natuurbewaarder, maar mense onthou hom steeds as die man wie se arm in die Krugerwildtuin deur ‘n krokodil afgebyt is – ‘n gebeurtenis wat sy lewe verander het.
Vir die eerste keer vertel Stoffel ook die volle verhaal van sy jaar grensdiens in die Wes-Caprivi en ontbloot op hierdie manier geheime geskiedenis uit die bosoorlog.
Hy kondig ook sy nuwe oorlog aan: Die stryd teen renosterstropery.
Krokodil aan my skouer is vir daardie persone wat ‘n liefde het vir die natuur en bewaring daarvan, sowel as diè wat ‘n belangstelling toon in die grensoorlog, oftewel enige ander oorlog of weermag.
Stoffel deel met die leser van sy mees opwindende en angsbevange ervarings gedurende sy dae as veldwagter en soldaat.
Daar is wel gedeeltes in die verhaal waarby sensitiewe lesers nie sal aanklank nie.
Die roman kan ook as opvoedkundig bestempel word.
Sy dae by die Suid-Afrikaanse leërinligtingskool Saints, waar intelligensiepersoneel opgelei word, en sy verdere opleiding as veldwagter word in fynere besonderhede beskryf.
Deur die loop van die roman is dit asof Stoffel ook ‘n gedaanteverwisseling ondergaan.
In die begin is hy hierdie tipiese tienerseun met geen ambisie en koers in die lewe nie: Hy weet nie wat hy wil hê en doen nie, en waarheen hy oppad is nie, maar een ding is verseker – hy hou nie van leer nie.
Tot die dag waar Stoffel sy passie vind, het hy harder begin werk, gefokus en gestreef na dit wat hy wou hê.
Hy het ‘n positiewe, volwasse blik op die lewe begin ontwikkel.
Bakkes se skryfstyl, vol ironie en lakonieke humor bly ‘n plesier, maar dis veral sy eerlike en openhartige blik op homself wat van hom so ‘n gewilde skrywer maak.
Een gelukkige Advertiser leser staan ‘n kans om ‘n kopie van Christiaan Bakkes se Krokodil aan my skouer: Stoffel toe en nou los te slaan. Om kans te staan, SMS die woord “krokodil”, jou naam en area waar jy woon, na 35718 voor 27 Mei. SMSe kos R1.50 elk. Die wenner sal telefonies in kennis gestel word.



