Huissoektog eindig vreesaanjaend
In hedendaagse tyd word die opwinding van die soektog na 'n huis gekaap deur die vrees dat jy moontlik deel van die krimele statistiek kan word.

’n Jong Boksburg paartjie, Maritza en Marius Koen, se soektog na hul perfekte woning het onlangs vreesaanjaend geeïndig nadat hulle helder-oor-dag betrokke was in ’n gewapende rooftog.
Die voorval waarby die huiseienaar, die huisagent en die Koen-paartjie betrokke was, het in die verkoper se huis in Beyers Park op 8 April plaasgevind.
Op hul pad uit, nadat hulle die huis besigtig het, het ’n wit Jeep verby die huis gery, skielik omgekeer en by die huis se oprit ingery.
“Die vrou (eienaar van die huis) het gedink dit is iemand wat na die huis wil kyk. Die volgende oomblik het vyf mans met 9mm-pistole uitgeklim,” vertel Maritza.
Die mans het almal gedwing om by die huis in te gaan en plat op die mat in die sitkamer te lê, waarna hulle met kabelbinders aanmekaar vasgebind is.
Terwyl die slagoffers op die mat gelê het, het die rowers alle juwele, selfone en motorsleutels van hulle afgeneem.
Volgens Maritza het die mans hul pistole teen Marius se kop gehou en dinge van hom vereis, omdat hulle gedink het hy die eienaar van die huis is.
“Die vrou het toe aan hulle (die rowers) gesê dat sy die eienaar van die huis is en hulle het begin om goed van haar te vereis. Sy moes hulle wys waar die kluis en haar juwele is.”
Intussen het die Koens en die huisagent in die sitkamer gebly onder toesig van een van die rowers.
Maritza vertel dat die mans deur die hele huis was en alle waardevolle besittings gesteel het.
“Die vrou kon nie die sekuriteit van die gewapende roof inlig nie, want sy het nie die afstandsbeheerder by haar gehad nie.”
Nadat die mans die huis vir bykans ’n uur deursoek het, het hulle blykbaar alles uit die slagoffers se motors gevat, maar die voertuie gelos, alhoewel hulle met die motorsleutels weggery het.
Die sekuriteitsmaatskappy kon eers ontbied word nadat die rowers gevlug het.
“Ek voel baie negatief oor die polisie, want hulle het eers drie ure later opgedaag. Hulle is nalatig en het tot vandag toe nog nie eers ’n verklaring by Marius geneem nie,” sê Maritza.
Maritza vertel dat sy gedurende die hele insident verskriklik kalm gebly en aanhoudend gebid het.
“Die Here het my gebede verhoor en ek voel dis wat ons deurgedra het.”
Volgens Maritza het die skok haar werklik eers twee dae na die gewapende roof gevang, en ontvang dus berading om alle emosies te verwerk.
“Ek leef in vrees, want ek vrees letterlik vir alles. My sintuie kry die oorhand.”
Die Koens het tans hul soektog na ’n huis stopgesit, maar Maritza vertel dat sy weens hierdie onsmaaklike voorval verkies om eerder in ’n sekuriteitsarea te woon.
Maritza wil lesers daarvan bewus maak dat angsbevange insidente soos hierdie in hul omgewing plaasvind en dat dit enige ander plek kan gebeur.
“Mense moenie uitgaan na die straat wanneer hulle gaste verwag nie – hulle sal die klokkie druk wanneer hulle buite is. Inwoners moet ook nie net ’n hek oopmaak sonder om seker te maak wie buite is nie.”



