Hartroerende gebaar help om ja-woord wen
’n Matrikulant van Hoërskool Dr EG Jansen se wens is bewaarheid, nadat hy regstreeks oor 94.7 Highveld Stereo vir ’n geliefde vriendin gesing en haar na hul matriekafskeid gevra het.
Natuurlik kon Christine Terblanche nie anders as om ja te antwoord op hierdie hartroerende gebaar van Brandon Fourie nie.
Brandon het Little Things van One Direction vir Christine gesing.
Dit is ook haar gunsteling liedjie van haar gunsteling sanggroep.
Brandon en Christine is al vir die afgelope paar jaar baie goeie vriende en hy beskou haar as een van sy naasste vriendinne.
“Ons sien mekaar elke dag by die skool en gesels altyd lekker,” sê Brandon.
Brandon wou Christine al laas jaar uitvra, maar hy het nie geweet hoe nie.
Die idee om Darren “Whackhead” Simpson, aanbieder van die Breakfast Xpress program te kry om te help, het van Brandon se ma af gekom.
“Ek het my ma gevra hoe ek Christine op ’n spesiale manier kan uitvra, en sy het soortvan gegrap dat ek dit oor Highveld Stereo moet doen, maar ek het dit ernstig opgeneem.”
Sy ouers het toe saam met hom ’n e-pos aan Wackhead gestuur waar hulle hom vra om Brandon te help om Christine se hart te wen.
“Wackhead het my gebel en voorgestel dat ek vir haar sing – om dit meer spesiaal te maak. Ek wou nie sing nie, want ek kan regtig nie sing nie! Ek wou haar oorspronklik net uitvra, maar Wackhead het my aangemoedi,” sê hy.
Die regstreekse uitsending was op 17 Maart en Brandon beskryf daardie oomblik as “nerve wrecking”.
“Dit is die hoogste punt van stres wat ek nog ooit ervaar het.”
Alhoewel hy die woorde van die liedjie geken het, het hy dit vir ingeval op papier neergeskryf.
Brandon het ook drie proeflopies met Simpson gehad voordat hulle op die lug gegaan het.
Hy was baie verlig toe Christine ja gesê het en volgens hom was sy ook baie opgewonde.
Sedert daardie dag glimlag Brandon van oor-tot-oor en hy sê dat ander mense ook positief daarop reageer het.
“Toe ek skool toe gaan, het mense vir my gelag en my gelukgewens. Ek het ’n pienk teddiebeer gehad om vir Christine te gee. Toe ek na haar toe stap, was sy bloedrooi. Sy kon nie eers praat nie; sy was net rooi.”
Sedert hierdie gebeurtenis het Brandon en Christine verskeie aanbiedinge gekry om hul matriekafskeid op 2 Oktober spesiaal te maak.
Brandon sê dat iemand aangebied het om hulle met ’n helikopter matriekafskeid toe te vat, dan is daar ook ’n fotograaf en danslesse vir hulle gereël.
Brandon wil graag vir Wackhead en Highveld Stereo bedank vir hulle hulp en bydrae.
“As dit nie vir hulle was nie, sou dit nie gebeur het nie.”



