EntertainmentLifestyle

Resensie: Verwoerdburg herinner aan 1980’s

Resensent: Ischke de Jager. Boek: Verwoerdburg. Skrywer: Johann Rossouw. Uitgewer: Struik Uitgewers. Beoordeling: Polities ernstig, tog met ’n ligte en snaakse trant.

Met die skryf van sy roman, Die Agtergeblewenes, het Jakes Botha gedink hy het sy grootwordjare op Verwoerdburg uit sy gestel geskryf.

Die lys van name waarmee Jakes in Die Agtergeblewenes afgereken het, is lank.

Vriende en kennisse van sy skooljare is kwaad en teleurgesteld in hom, omdat hy hulle in Verwoerdburg agtergelaat en wraak teenoor hulle geneem het in sy boek.

Jakes worstel egter met die gedagte of dit ’n goeie idee is om terug te keer na Verwoerdburg om die skoolreünie by te woon.

Skrywer van Verwoerdburg, Johann Rossouw, het grootgeword in Verwoerdburgstad, nou bekend as Centurion.

Hy het die idee vir hierdie tweede roman van hom in November 2001 gekry, en vir die volgende agt jaar aan idees gewerk.

Rossouw het eers vroeg in 2009 aan die eerste weergawe begin skryf.

“Ek wou die verhaal help vertel van my geslag Afrikaners wat in die 1980’s grootgeword het, en wie se lewens onherroeplik gevorm is deur die feit dat die wêreld waarop ons voorberei is, op die rand van volwassenheid sonder waarskuwing ineengestort het.

“Ons bevryding was ook ons verdwyning,” sê Rossouw.

Rossouw motiveer dat hy groot simpatie met elke karakter in sy boek het, dus kan hy homself nie met een spesifieke karakter vereenselwig nie.

Die deurlopende tema in die roman is hoe Rossouw se geslag moes probeer koers hou met dieselfde ideale waarmee hulle gevorm is, maar wat ook dikwels verraai is deur diegene wat dit aan hulle oorgedra het.

Verwoerdburg is ’n lekker-lees roman wat gebaseer is op geskiedkundige gebeurtenisse, maar Rossouw gebruik uiteindelik fiksie om die waarheid oortuigend te probeer versin.

Hoewel die gebeurtenisse uitgebeeld van ’n ernstige saak is, is daar oomblikke in die roman waar ’n leser bietjie kan laat gaan en lekker kan lag.

Lesse wat uit Verwoerdburg geleer kan word, is dat jy nie kan ontken waar jy vandaan kom nie.

“En wat jy daarmee doen, bepaal wie jy word,” sê Rossouw.

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button