Helpende Hand entrepreneurskompetisie kweek werksgeleenthede
Inskrywings vir Solidariteit Helpende Hand se Entrepreneurskompetisie vir graad ses tot twaalf-leerlinge, het Maandag, Februarie 17, weer geopen.

Deur hierdie kompetisie poog Helpende Hand om die probleem van werkloosheid onder die jeug aan te spreek deur hulle vroegtydig met entrepreneursvaardighede te bemagtig.
“Enige leerling regoor die land kan inskryf, juis omdat dit ‘n Internet platform is,” sê Helpende Hand projekorganiseerder, Karin Venter.
Volgens die mees onlangse Adcorp-werknemersindeks, is daar tans ongeveer 344 000 Suid-Afrikaners met grade, diplomas en sertifikate wat werkloos is, omdat hulle nie oor die vaardighede beskik waarna werkgewers soek nie.
Die verslag toon dat die getal afleggings in Januarie die hoogste die afgelope 10 jaar was, met 36 290 Suid-Afrikaners wat hul werk kwyt is.
“Die statistieke dui daarop dat dit vir jongmense al hoe belangriker word om entrepreneuriese vaardighede aan te leer, sodat hulle eendag in staat kan wees om hul eie ondernemings te begin sou dit nodig wees,” sê die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, Dr Danie Brink.
“Met die aanleer van entrepreneuriese vaardighede vanaf ‘n vroeë ouderdom, sal jongmense beter toegerus wees om die toekoms aan te pak. Hierdie vaardighede sal ook verseker dat ‘n agterdeur oop is as dinge in die werksplek skeefloop.”
Hierdie jaar word die kompetisie vir ‘n tweede keer aangebied en die totale prysgeld beloop R60 000.
“Verlede jaar was die kompetisie ‘n reuse sukses, en dit het ons aangespoor om dit vanjaar selfs op groter skaal aan te pak,” sê Venter.
Laasjaas was daar geen inskrywings van leerlinge vanuit Boksburg nie, maar wel uit ander dele van die Oos-Rand.
“Die wenner sal wegstap met R15 000 om in sy of haar beplande besigheid te belê, asook R15 000 vir sy of haar skool wat hulle kan aanwend vir entrepreneursontwikkeling.”
Die kompetisie bestaan uit drie fases waar finaliste na elke fase deurdring na ‘n volgende rondte en sodoende toegang kry tot die materiaal vir die volgende fase.
Belangstellende graad ses tot twaalf-leerders kan inskryf op www.loopbaan.co.za.
Die sluitingsdatum vir die inhandiging van besigheidsidees is 2 Mei, en deelname is heeltemal gratis.
“Ek hoop dat die leerlinge van die geleentheid gebruik sal maak om daardeur hulself te ontwikkel,” sê Venter.



