MunicipalNews

Motorfietse veroorsaak irritasie

Motorfietsryery as ’n tydsverdryf is iets wat daagliks in gewildheid toeneem, maar vir ’n inwoner van Parkrand, Boksburg, verskaf dit meer ’n lawaai, eerder as plesier.

Johan Joubert bly al ongeveer 30 jaar in Fairbridgeweg, dus jare voor die ontstaan van die park by sy huis.

Hoewel die park vantevore probleme rondom dwelmgebruikers gehad het, is dit lankal uitsorteer en probleme van dié aard het nie weer opgeduik nie.

Volgens Joubert is dit ’n lieflike park waarvan die instandhouding ook na wense is.

Die probleem wat egter die afgelope paar jaar sy kop uitsteek, is die onwettige bestuur van voertuie, veral motorfietse, in hierdie park.

“Soms wil jy net lekker rustig by die huis op die stoep sit, dan hoor jy hoe raas die motorfietse,” sê Joubert.

Joubert beweer dat die bestuurders selfs deur die nag op hul motorfietse in die park baljaar en hoeter druk.

Hy voeg ook by dat een van die motorfietsryers voorheen sy buurman gevloek het nadat hy hom gekonfronteer het oor hy in die park rondjaag.

Volgens die 2007 Ekurhuleni Munisipaliteit Regulering van Parke en Oop Ruimtes bywette, staan daar onder punt agt dat daar hoegenaamd gèèn motorfietse, vierwiel motorfietse, driewiel motorfietse of motorvoertuie, buiten ’n rolstoel of ’n stootwaentjie (aangedryf deur die hand), in ’n park bestuur, getrek, aangedryf, parkeer, skoongemaak, of herstel mag word nie.

Hierdie reëls geld egter nie in gevalle waar die Raad se bywette of kennisgewings anders aangebring of opgerig is, by of naby die ingang van die park nie.

Volgens metro woordvoerder, Themba Gadebe, is hierdie bywette wat sodanige aktiwiteit verbied, van toepassing op dié park ter sprake.

“’n Kennisgewingbord sal binnekort opgerig word om te verseker dat motorfietsryers daarvan bewus is dat dit ’n verbode aktiwiteit is, en sodat die EMPD enige oortreders van die bywette kan vervolg.

“Die Raad behou ook die reg om enige pad of paadjie in ’n park, permanent of tydelik te sluit, indien hierdie bywette oortree word.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button