
Silveray Statmark Company (SSC) het poeierverf, telrame, klei en penne geskenk om by die tassies wat reeds in Gauteng uitgedeel is, te voeg.
SSC, ’n volfiliaal van die Bidvest Groep, is ’n vervaardiger en verspreider van ’n wye verskeidenheid skryfbehoeftes vir kantore, skole en maatskappye.
Die maatskappy is ook die verskaffer van die skooltassies en het alreeds baie afslag aan die projek besorg.
Helpende Hand het vanjaar 4 600 skooltassies by 208 skole regoor die land uitgedeel, as deel van die organisasie se Skooltassieprojek.
Skole wat deur die Solidariteit Helpende Hand Boksburg-tak tassies ontvang het is Laerskool Goudrand (50 tassies) en Laerskool Witfield (25 tassies).
Daar is ’n totaal van 993 tassies in Gauteng-Suid uitgedeel.
Hierdie jaar het elke rugsakkie ’n skêr, gom, liniaal, witbord, penneblikkie, inkleurpotlode, uitdraaikryte, waskryte, witbordpenne, uitveër, skerpmaker, inkleurboek, witbord-uitveër, klei, waterverf, legkaart, springtou en tennisbal bevat, asook die Bybelgenootskap se My eerste Bybel doen en leer boek wat deur die Bybelgenootskap geskenk is.
Gedurende die tweede week van Februarie is die addisionele skryfbehoeftes aan 30 skole in die provinsie uitgedeel.
Projekorganiseerder van die Skooltassieprojek, Anel du Preez, sê dat die projek vanjaar die grootste nog was en dat die sukses hand-aan-hand loop met die ondersteuning van die vennote en borge.
“Ons is baie dankbaar vir al die skenkings wat hierdie projek moontlik maak, omdat dit ons in staat stel om elke jaar ’n verskil in nog meer kinders se lewens te maak,” sê Du Preez.
Die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, Dr Danie Brink, sê met die nasionale Skooltassieprojek, dra Helpende Hand by om behoeftige Afrikaanssprekende graad eens te ondersteun om hul skoolloopbaan op ’n gelyke vlak met klasmaats te begin.
“Ons glo dat armoede uitgeroei kan word deur in opleiding te belê. Vir Helpende Hand begin dit reeds met die gevoel van hoop wat die nodige gereedskap vir hierdie kinders skep,” sê Brink.



