TAG gaan voort om E-Tolwet ongrondwetlik te verklaar
Die Tolhek-aksiegroep (TAG) wat uit die VF Plus, die Transvaalse Landbou Unie van Suid-Afrika (TLU SA) en die Nasionale Belastingbetalers Unie (NBU) bestaan, is vasbeslote om voort te gaan met die hofsaak om die Wet op Vervoerwette en Verwante Aangeleenthede (ook bekend as die E-Tolwet) ongrondwetlik te verklaar.

Volgens TAG-woordvoerder en VF Plus-LP belas met vervoer, adv Anton Alberts, is TAG na aanleiding van regsadvies steeds oortuig dat die E-Tolwet ongrondwetlik is, dat die regulasies onwettig uitgereik is en dat die E-tol loodsdatum foutiewelik aangekondig is.
Al hierdie regsfoute sal voor die hof geplaas word vir beregting.
“Tydens ons dringende aansoek geloods op Desember 3, het die regter die saak afgewys weens ’n gebrek aan dringendheid sonder om die meriete van ons saak te beoordeel. Derhalwe sal TAG nou die saak op die gewone hofrol laat plaas,” het Alberts verduidelik.
TAG sal die oorspronklike aansoek van Desember 3 aanvul met argumente oor verdere foute wat hulle opgespoor het in die E-Tolwet en die regulasies.
Van die verdere foute is as volg:
* Die toltariefregulasies blyk nie werklike regulasies te wees nie, maar bloot ’n kennisgewing.
* Die misdryf in die SANRAL-wet wat nie-betaling van tol kriminaliseer waarna in die regulasies verwys word, is nie toepasbaar op die nie-betaling van E-tolgeld nie.
Die rede daarvoor, is dat die misdryf vereis dat tol betaalbaar is by enige tolplaza, wat gedefinieër word as enige tolhek self of soos voorgeskryf. Aangesien motoriste nie kan betaling aanbied by die tolhekke self nie, moes dit voorgeskryf gewees het.
TAG wil ook aan motoriste advies gee aangaande hulle regte op die E-tolpaaie.
Van spesifieke belang volgens TAG is die volgende:
* Rekeninge: TAG oorweeg tans om ’n hofaansoek te bring om Sanral te dwing om alle rekeninge te hanteer in lyn met die Wet op Verbruikersbeskerming.
“Sanral se gedrag en die regulasies self wemel van foute en stel verskeie ernstige verbrekings van die wet daar. Die VF Plus staan ook individue by wat klagtes wil lê by die Verbruikerskommissie,” sê Alberts.
* Vervolging: TAG sal enige persoon wat vir nie-betaling vervolg word bystaan in die hof. Daar sal die volgende argumente, onder andere, aangevoer word:
* Dat die E-Tolwet ongrondwetlik is en dat enige vervolging gestaak moet word hangende die uitslag van TAG se hofsaak.
* Dat die regulasies daarop dui dat net geregistreerde gebruikers tolgelde verskuldig is.
* Dat die misdryf in die Sanral-wet nie van toepassing is op E-tol nie.
“TAG moedig die publiek aan om nie e-skyfies te koop nie, aangesien diegene wat dit doen ’n kontrak met Sanral aangaan en dus kontraktueel verplig is om betalings te maak.
“Daarbenewens bou Sanral sy eie databasis op om persone te vervolg. Indien motoriste wel weens vrees van arrestasie betalings maak, sal TAG enige betaalde gelde namens betalers terugeis indien TAG die E-Tolwet ongrondwetlik verklaar kry.
“TAG is daartoe verbind om in die openbare belang op te tree en die E-tolstelsel te stop.”



