VF Plus se stryd teen E-tol kry momentum
Die VF Plus het as deel van sy deurlopende veldtog teen die E-tolstelsel nou ’n veldtog geloods waardeur die publiek klagtes oor die E-tol by die Verbruikerskommissie kan gaan indien.

Mediaverklaring
In ’n positiewe verwikkeling, het die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) bevestig dat hy klagte rondom die E-tol gaan ondersoek na aanleiding van ’n versoek van die VF Plus in hierdie verband.
Volgens VF Plus-parlementêre woordvoerder van vervoer, Adv Anton Alberts, is twee doelgerigte webwerwe vir Afrikaans- en Engelstaliges vir die klagtes geskep. Die Afrikaanse webwerf is www.tolhekpetisie.org.za en die Engelse weergawe is www.tollgatepetition.org.za.
“Ons het nou ’n instrument en kanaal geskep vir almal wat E-tol-probleme ondervind en daarteen gekant is.”
“Daardeur kan ons ook bewys die stelsel werk nie en verdere druk op die regering plaas.”
“Die VF Plus se stryd teen e-tol kom ’n lang pad, en ons sal daarmee aanhou tot ons ’n oorwinning vir alle padgebruikers behaal het,” sê Alberts.
Oor die NVK se versoek dat partye onderling moet probeer om ’n probleem op te los voordat ’n klagte by die kommissie ingedien word, sê Alberts hy neem kennis daarvan, maar dat die publiek desperaat was aangesien hulle op geen ander wyse gehelp kon word nie.
In sy stryd teen E-tol het die VF Plus tot op hede reeds:
- Met President Jacob Zuma gekorrespondeer oor die wettigheid van die E-Tolwet.
- n ’n Saak in die Noord-Gautengse Hooggeregshof gevoer.
- ’n Formele klag met ’n dringende versoek om alle advertensies rakende die Gautengse E-tol in die media stop te sit, is voorgelê aan die Gesagsliggaam vir Reklamestandaarde; en
- Die VF Plus het alle ander pogings gesteun wat daarop gemik is om E-tol te stuit.



