Noodoproep in Afrikaans glo geweier
Gedurende ’n onlangse oproep na die 10111 noodlyn van die SAPD, moes Afriforum hoor dat operateurs weier om oproepe in Afrikaans te ontvang. “Toe daar in Afrikaans na diens versoek is, het die operateur blykbaar die oproep summier afgesny. Hierdie optrede deur die noodlyn is nie net ongrondwetlik nie, maar stel ook die lewens van …

Gedurende ’n onlangse oproep na die 10111 noodlyn van die SAPD, moes Afriforum hoor dat operateurs weier om oproepe in Afrikaans te ontvang.
“Toe daar in Afrikaans na diens versoek is, het die operateur blykbaar die oproep summier afgesny.
Hierdie optrede deur die noodlyn is nie net ongrondwetlik nie, maar stel ook die lewens van diegene wat bel ingevaar,” volgens AfriForum, wie die saak met die nasionale polisie kommissaris, Riah Phiyega, opneem en het reeds ’n klagtekanaal op hul webtuiste (www.afriforum.co.za) bekendgestel waar die publiek inligting kan indien oor soortgelyke ondervinding.
Volgens die adjunk-hoofuitvoerendebeampte van Afriforum wat verantwoordelik is vir taalsake, Alana Bailey, is dit die soveelste voorbeeld wat die mislukking van die SAPD uitbeeld om diens in ten minste die amptelike taal van die land te verskaf, soos vereis deur die Grondwet, Wet op die Gebruik van Amptelike Tale en die Dienshandves vir Slagoffers van Misdaad.
“Afriforum beskou hierdie laaste insident in ’n baie ernstige lig, want diensvoorsiening deur die 10111 noodlyn personeel is letterlik ’n saak van lewe en dood,” sê Bailey.
Die publiek kan op www.afriforum.co.za luister na ’n oproep wat geweier is.
“Nie alle Suid-Afrikaners is in staat om die vlak van Engels te praat en skryf wat in die hof gebruik word nie. Taal probleme kan letterlik die regsproses laat ontspoor.
“Slagoffers van misdaad het die reg om diens in hul eie taal te ontvang en Afriforum wil hê die SAPD moet hul plig doen in hierdie verband,” beklemtoon Bailey.
Tot dusver is daar geen sulke klagtes vanuit die Oos-Rand ontvang nie.
Die klagtes kom grotendeels vanuit inwoners in Nylstroom, Naboomspruit en Pretoria.
Enige persoon wat taal probleme by ’n Suid-Afrikaanse polisie stasie of gedurende ’n oproep na 10111 ondervind het, word versoek om die inligting beskikbaar te stel aan Afriforum, of om besonderhede na afriforum@afriforum.co.za te e-pos.
Afriforum sal die saak onder die aandag van die kommissaris van polisie bring, en sal probeer om volhoubare oplossings tot die probleem te vind.



