Tyd om teen misdaad te staan
Dit is tyd dat die nasie hande vat en saamstaan teen misdaad vir 'n beter Suid-Afrika.
Dit is die mening van bekende persoonlikheid en sanger, Gerhard Steyn.
Om dié rede, het Gerhard saam met sy goeie vriend, Predikant Andries Enslin, van die Alberton Lewensentrum, die “Saamstaan”-inisiatief van stapel gestuur.
Op Sondag, 10 November, word ‘n saamtrek by @The Park, langs Emperors Palace gehou, waartydens Gerhard gaan sing en Andries die Woord bring.
Die doel van die aand is om die nasie – nie net die Afrikaner – weer bymekaar te bring, en ook om die nasie weer by God te kry.
“Misdaad, bloedvernietiging, korrupsie en verkagting in ons land is buite beheer,” meen Gerhard, wie in Boksburg woon.
“Die probleem is ons sit en wag dat God iets vir ons land moet doen. Ons moet egter besef dat God wag dat ons iets moet doen, wat beteken dit is tyd om ons geloof oor te sit in aksie.
“Op die aand wil ons ‘n verklaring maak dat ons as ‘n nasie hier is vir God en dat ons vir God vra om ons te lei, en ons te bemagtig.
“Dit is tyd om op ons knieë te gaan, saam in gebed, en ons moet saam opstaan sodat ons kan saamstaan.”
Andries beaam Gerhard se motiewe, en reken daar moet defintief ‘n geestelike asook ‘n morele hernuwing kom in die land om misdaad hok te slaan.
“Ons glo dat dit is tyd dat God se kinders letterlik bymekaarkom en saamstaan in geloof teen misdaad en veral teen die korrupsie in die land.
“Ons kan dit slegs doen met God se liefde wat strek oor kleur-en kultuurgrense heen. Ons wil bid vir almal in ons land.
“Met ‘Saamstaan’ wil ons dus elke Christen in ons land wat ons visie deel, asook die publiek in die algemeen, nooi om hulle op te aand te verootmoedig voor die Here vir ‘n beter Suid-Afrika.
“Ons wil bid dat God ons nuut in ons harte en gedagtes maak. Ons wil ook bid en vra dat Hy die misdadigers se harte sal sag maak en verander.”
Andries sê die saamtrek moet nie gesien word as net nog ‘n beweging nie, maar dat hulle graag saam wil werk met alle organisasies en “bewegings” wat graag vir ‘n beter Suid-Afrika hoop.
“Enige iemand, groep of organisasie kan hande met ons vat. Ons land is verdeeld, ons gesinne is verdeeld, en selfs ons kerke is verdeeld, so ons moet ‘n poging aanwend om saam te staan in eenheid in die hoop vir ‘n beter Suid-Afrika vir almal.”
Beide Gerhard en Andries hoop dat die saamtrek sal uitbrei sodat dit van dorp tot dorp regoor die land sal plaasvind.
Die saamtrek is ook deel van Gerhard se geestelike reis wat oor die laaste paar jaar meer intens geraak het.
Deel van sy geestelike reis was die Gospel-album Nuwe Krag, wat hy uitgereik het so ‘n jaar gelede en wat tot dusver baie goed in terme van verkope vaar.
“Ek is in 2010 in my huis deur gewapende rowers aangehou, maar het die trauma onderdruk. Later, toe ek ‘n begrafenis bygewoon het van iemand wat ‘n slagoffer van misdaad was, het al die rou gevoelens uitgeborrel.
“Ek het toe besef dat dit is beter om eerder die misdaadeeuwel aan te pak as om dit te vermy.
“Die antwoord tot ‘n beter Suid-Afrika moet op ‘n geestelike vlak begin. Ek het nie die Gospel-album gemaak vir my eie onthalwe nie, en die saamtrek gaan ook nie oor my nie, maar dit gaan oor die Here en dit gaan oor ons land,” sê Gerhard.
“Dit is tog nie God se plan dat ons almal in vrees lewe nie, maar ons lewe wel in vrees ager ons hoë mure.
“Ek is lief vir die land, Andries is lief vir die land, en ek weet daar is baie ander mense wat lief is vir die land – dit is tyd dat ons vir die land baklei.”
Gerhard sê hy is maar skrikkerig oor 10 November, aangesien hy geen idee het hoe gaan mense reageer nie.
“Die saamtrek is dalk ‘n groot sprong wat ons neem, maar dit is sprong wat gemaak moet word. Ons sal maar sien of mense erinstig is of hulle ‘n beter SA wil hê of nie.”
Gerhard meen Suid-Afrikaners het vrees vir God verloor.
“Ons het ons pos by die stadsmure verlaat, wat beteken ons bid nie meer vir ons gesinne, ons dorp of ons land nie. Dit is tyd om na die stadspoorte terug te keer.”
Andries reken daar is niks so kragtig soos ‘n nasie wat saam tot God nader en saam bid nie.
“Dit beteken egter dat ons almal eers ons eie huis in orde moet kry voordat ons die land weer kan genees. Dit begin dus by elke individu en in elke dorp.”




voorspoed ons gaan daar wees…