Nuwe voorsitter reg om die Boksburgse Rapportryerskorps na hoër hoogtes te neem
“Kom ons staan saam as Afrikaners en is nie meer verskonend vir ons geloof, kultuur en geskiedenis nie. Raak betrokke en wees draers van die boodskap."
Carel Grünewald is gereed om die leisels oor te neem as die voorsitter van die Boksburgse Rapportryerskorps.
Die nuutverkose voorsitter het verduidelik dat die beweging op ’n Christelike Afrikaanse grondslag berus.
“Die beweging streef om die Afrikaanse taal, sedes en gewoontes soos geopenbaar in sy Christelike geloof, geskiedenis en tradisies te ontwikkel, uit te leef, te handhaaf en te bevorder met die jeug en gesonde gesinsbande as vertrekpunt.
“Ons doel en is om as beweging in eie reg, maar ook in samewerking met ander organisasies van die Afrikaner-kultuurhuishouding deur middel van strategiese vennootskappe en samewerking aktuele onderwerpe te bespreek en van tyd tot tyd saamwerk aan gemeenskaplike doelwitte,” het Carel gesê.
Hy het gesê benewens die korps se betrokkenheid by die Bybelvasvra het hulle ook onder andere die kuier-aand saam met ander kultuurorganisasies, uitstappie by die Willem Prinsloo-terrein, gholfdag by die ERPM-gholfbaan, pro-Afrikaanse opstelkompetisie, ’n sop-en-sjerrieaand, dames-ontbyt en jukskeidag op hulle jaarprogram.
Om voorsitter te wees is vir hom ’n groot eer, maar hy erken dat hy groot skoene het om vol te staan – die van Christo Roets wie vir jare die hartklop van die korps was.
“My doelwit is om die strewes van die beweging uit te leef en daarmee saam die beweging bekend te stel en getalle uit te brei.
“Ek sal graag in elkeen van die Ekurhuleni metro se stede ’n korps wil sien met ywerige, doelgerigte, vasberade jong Afrikaners wat die beweging se strewes sal uitleef.
- Meer oor Carel
Hy is in die vorige eeu op Aliwal-Noord gebore, laerskole in Rossouw, Jamestown en Petrusburg bygewoon en het sy hoërskoolloopbaan in Bloemfontein in 1975 voltooi.
“Daarna het ek by die SAPD aangesluit en verkillende plekke gewerk totdat ek in 1998 pakket geneem het en my op Bethlehem gevestig het, waar ek onder andere betrokke was by plaasbeveiliging en talle kuluurorganisasies.”
In die begin van 2019 het hy verhuis na Alberton.
Carel is getroud aan sy skoolliefde, Naomi.
“Ek het twee dogters uit ’n vorige huwelik en saam het ons ses kleinkinders, vier dogters en twee seuns,” het hy bygevoeg.



