Local newsNews

AfriForum se Boksburg-buurtwag neem deel aan Operasie Masakhane

Volgens Marie Naudé, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, hoef jy nie ’n lid van AfriForum te wees om van die buurtwag se dienste gebruik te maak nie .

Die burgerregte-organisasie AfriForum se buurtwagte in Kempton Park, Boksburg, Brakpan, Edenvale, Germiston en Springs het onlangs, in samewerking met die SAPD, die gemeenskappolisiëringsforum (GPF) en verskeie sekuriteitsmaatskappye aan die SAPD se Operasie Masakhane in Kempton Park deelgeneem.

Die buurtwag is onlangs in Boksburg gestig. Dit is nadat verskeie gemeenskapslede die behoefte aan ’n AfriForum-tak en AfriForum-buurtwag uitgespreek het om sodoende die voortslepende munisipale probleme en die hoë misdaadvlak in dié dorp te takel.

AfriForum buurtwag is ’n entiteit op sy eie wat fokus op samewerking in alle areas.

AfriForum-buurtwagte wil ’n verskil in hul onderskeie gemeenskappe maak deur inwoners met hoë sigbaarheidsaksies gerus te stel en te beveilig, veral met die naderende feesseisoen.

Sestien AfriForum-patrolleerders het aan die operasie deelgeneem en was onderskeidelik by twee padblokkades, sigbaarheidspatrollies, verrassingsbesoeke aan klubs, kroeë en tavernes, asook ’n dwelmoperasie onder leiding van die SAPD se misdaadvoorkomingseenheid betrokke.

“Twee arrestasies is vir gewapende roof en twee vir die besit van dwelms uitgevoer. Verskeie dwelms, gevaarlike wapens – wat ’n panga, messe en knopkierie insluit – en drank is gekonfiskeer,” sê Jan Vermaak, AfriForum se Kempton Park-takvoorsitter.

“Altesaam 1 200 pamflette oor die vernietigende uitwerking van dwelms en 200 pamflette oor huishoudelike geweld is tydens interaksies met die gemeenskap versprei.

“Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol om misdaad te bekamp. AfriForum-buurtwagte sal daarom klem op verhoogde sigbaarheidsaksies in hul onderskeie gebiede lê.”

Lede van die publiek kan ’n e-pos stuur aan marie.naude@afriforum.co.za of ’n WhatsApp boodskap stuur aan 081 217 8579 vir meer inligting of om betrokke te raak.

LEES OOK: Afriforum stig buurtwag in Boksburg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button