NewsSchools

Laerskool Concordia verwelkom nuwe hoof

Nuwe hoof wil graag sy onderswysers inspireer deur hulle erkenning te gee vir hulle toegewydheid aan die skool.

In 1990 stap ’n afgestudeerde Charel Blignaut by Laerskool Concordia in, gereed om sy onderwysloopbaan af te skop.

Nou, na 30 jaar in die onderwys, keer hy terug na die skool, gereed om die leisels as hoof oor te neem.

Laerskool Concordia het hom op 30 Augustus verwelkom en hy het amptelik op 2 September sy pos betree.

Blignaut het Concordia in 1994 verlaat toe hy ’n bevordering as departementshoof by Laerskool Jeugpark aanvaar het. In 2007 word hy by Laerskool Rynfield as adjunkhoof aangestel.

Sport lê ook naby aan sy hart. Hy is betrokke by die afrigting van atletiek, in die besonder hekkies, rugby en krieket en is die voorsitter van die Valke Laerskole Skeidsregtersvereniging, asook die ondervoorsitter van Gauteng Skole Atletiek.

“Dit is vir my ’n ongelooflike groot voorreg om weer terug by die skool te wees. Ek het ’n sagte plek vir die skool en hier voel ek tuis. Die skool, personeel en gemeenskap het my met ope arms verwelkom. Hulle ondersteuning en gelukwensing beteken vir my baie.,” vertel hy met entoesiasme.

“Ek het ’n droom om die skool na hoër hoogtes te neem. Hiermee het ek die hulp van die gemeenskap nodig. Ons almal moet as ’n eenheid saamwerk om hierdie droom ’n realiteit te maak.”

Hy vertel dat hy nie nou van plan is om groot veranderings by die skool aan te bring nie. “’n Mens verander nie aan ’n wenresep nie. My doel op hierdie stadium is om die skool beter te leer ken en uit te vind hoe Concordia tans funksioneer. Roetine, struktuur en tradisie is belangrik,” voeg hy by.

Sy visie vir die skool is om die status en standaard van die skool hoog te hou en te help om die skool tot sy volle potensiaal te laat groei.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button