Skryf in vir Con Spirito se kompetisies om kultuur te bevorder
Con Spirito Kunsvereniging het hulself pas aan die Wes-Rand en in Mpumalanga ook gevestig en het gróót planne vir hul heel eerste kunswedstryd in daardie gewestes.

Die Con Spirito is ’n unieke kultuurvereniging wat al vir die afgelope 16 jaar in Boksburg en omgewing bedryf word.
Die doel is om kultuur in die gemeenskap te bevorder, geleenthede deur kompetisies en werkswinkels te skep en om jong talent te ontdek en te ontwikkel.
Die vereniging skep dus ’n opwindende nuwe geleentheid vir alle jong, talentvolle kultuurliefhebbers wat die behoefte het om hulself passievol en op ’n gesonde mededingende vlak uit te druk.
Die vereniging bied ook nog elke jaar ’n diverse kompetisie vir leerlinge en skole aan wat die deelnemers aan meer geleenthede blootstel en prestasies op provinsiale vlak bied.
Con Spirito akkomodeer alle leerders, skole en ander opvoedkundige privaatinstansies, hetsy dansskole, sangskole, dramaskole, kunssentrums of enige ander instansies wat kultuuropleiding aan leerlinge van Graad RRR tot 12 bied.
Die afdelings waarvoor die leerlinge en instansies kan inskryf is soos volg: skryfkuns, redenaars, sang/instrumentaal, drama, kuns, dans en kore/sêrgroepe/sanggroepe.
Tydens die finale ronde van die kompetisie, oftewel die ‘Con Spirito Forté, word die leerlinge met die hoogste punte – ongeveer vyf per afdeling uit die hele Gauteng en Mpumalanga genooi.
Die jaarlikse prestige-aand sal op 10 Oktober in Boksburg volg waarna al die afdelingwenners genooi sal word en uitgesoekte deelnemers sal optree.
Dis ook hier waar die trofeë, sertifikate, knopies en balkies formeel deur Con Spirito Kunsvereniging se bestuurspan uitgedeel sal word.
Vir meer inligting besoek Con Spirito Kunsvereniging se webtuise by www.conspiritokultuur.wix.com/conspirito of stuur ’n e-pos aan conspiritokultuur@gmail.com vir enige navrae.



