Maak kinders bewus van misdaad, dwelm gevare
Privaat speurder Mike Bolhuis versoek dat onderwysers en ouers hul kinders oplei en seker maak dat hulle presies weet wat aangaan wat misdaad en dwelms betref.
Bolhuis het sy kennis by die Sarie Klub, te Summer Place, op 24 Oktober kom deel.
Hy en sy span is spesialis ondersoekers in ernstige geweld en ernstige ekonomiese misdrywe.
Hulle ondersoek enige sake wat die outoriteite nie kan aanspreek nie.
Bolhuis het verskeie misdrywe, onder andere dwelms, mensehandel, kubermisdaad en motorkapings bespreek.

Een van die belangrike aspekte van dwelms wat hy aangeraak het, is dwelms in skole.
Volgens Bolhuis is dwelms in skole een van die grootste probleme wat bestaan.
“Dwelms is tans ook een van die grootste misdade in ons land,” sê Bolhuis.
Dwelms is een van die probleme wat nie behoorlik aangespreek word nie en Bolhuis argumenteer die hoofrede is onkundigheid.
Die nadeel is die meeste mense dra nie werklik kennis hoe die dwelmwêreld werk en die effekte daarvan nie, meen hy.

- Geld
Volgens Bolhuis kyk dwelms nie na kleur en ouderdom nie – dit kyk net na geld.
“’n Dwelm begin altyd by die kleinste vorm van verslawing en dit is gewoonlik kinders wat rook,” sê hy.
“Rook is die grootste dwelm in die wêreld en dit is seker een van die grootste verslawings.”
Ná sigarette kom dagga en daarna die sterker dwelms.
“Soos hierdie kinders groei, raak hulle by dwelmbedrywighede en dwelmgebruik op ’n gereelde basis betrokke,” sê Bolhuis.

- Verslawing
Hy noem die volgende as moontlike tekens van verslawing:
- Die kind wil nie tyd met die familie spandeer nie;
- Hy wil nie kerk toe gaan nie;
- Sy kamerdeur is altyd toe;
- Hy is heeltyd besig op tegnologiese toestelle;
- Hy het ’n sekere vriendegroep en kleredrag;
- Hy is wetteloos en disrespekvol teenoor onderwysers; en
- Baie donker oë en kuier laataand.
Soos die kind ouer raak, word hy al hoe meer verslaaf en sodra iets negatief by die huis of skool of in hul vriendekring gebeur, is die toevlug waarna hulle gaan ’n groter en sterker dwelm (byvoorbeeld cat en cocaine)
Daar is baie kinders by die eksperimentering en gebruik van dwelms, veral by huispartytjies, betrokke.
- Toets
Volgens Bolhuis is dit baie belangrik om gereeld seker te maak dat jy as ouer die moeite doen om jou kinders te toets; jy moet ook gereeld hulle selfone vat en kyk wat daarop aangaan want daar verskyn baie keer pornografie op.
Hy sê ook ouers moet hul kinders waarsku om nie hul persoonlike inligting op enige sosiale media platform te plaas nie, want dit is hoe hulle by ander misdaadnetwerke betrek word.
“In Suid-Afrika moet jy jou kind se foon gereeld ondersoek en hom toets en oplet vir die reedsgenoemde tekens van moontlike dwelmgebruik,” sê Bolhuis.

Indien jy hierdie simptome opgemerk het, kan jy ’n dwelmtoets by die huis neem.
Wat skole betref, Bolhuis en sy span probeer al hoe lank dat daar twee klasse ekstra op skool bygevoeg word.
Die een klas moet handel oor die voorbereiding van die hantering van misdaad en die ander klas moet handel oor die voorbereiding vir gevare soos dwelms en nagklubs.
“Omdat kinders nie al op skool hiervoor opgelei word nie, is hulle baie keer onkundig wanneer hulle aan eksperimentering blootgestel word,” sê Bolhuis.




