NewsSchools

Voormalige EG Jansen onderwyser oorlede

Voormalige Hoërskool Dr EG Jansen hoofdogter en voormalige onderwyseres, Ans Badenhorst (70), is op 30 April skielik aan ’n beroerte in die Netcare Union Hospitaal, Alberton, oorlede.

Volgens haar dogter, Elzanne Vorster, het Ans op 22 April in haar huis haar kop agter oopgeval.

“Ons het haar na ongevalle geneem en sy is van toe af in die hospitaal,” het sy gesê.

Ans, ’n 46-jarelange Alberton inwoner, het in 1963 aan EG Jansen gematrikuleer en het sedert 2004, vir vier jaar lank, hier skoolgehou.

“Sy was ’n ongelooflike vrou en onderwyseres,” het Gys Loods, van die skool, gesê.

“Sy het ’n geweldige bydra gelewer tot die skool en die opvoeding van die leerders.”

Sy het Afrikaans en Engels vir grade agt tot 12 aangebied.

Ans het vir baie jare ook by Hoërskool Alberton en JG Strydom skoolgehou.

Sy is op 5 September, 1945, in Boksburg gebore.

Nadat sy gematrikuleer het, het sy Stellenbosch toe getrek, waar sy onderwys studeer het.

Voordat sy begin skoolhou het, was sy ’n kontinuïteitsaanbieder by die SAUK.

Ans is in 1967 met Hennie Badenhorst getroud en hulle het vir ’n ruk lank in die Kaap gewoon voordat hulle in 1970 na Alberton verhuis het.

Ans het tot voor haar dood dramaklasse aangebied en klas gegee by kleuterskole. Sy was ook vir jare die Alberton Damesklub se voorsitter, en was ook betrokke by ander organisasies.

Elzanne beskryf haar ma as ’n ekstrovert wat altyd met haar hart op haar mou geloop het. Sy was lief vir haar taal en vir kinders.

“Ek gaan dit mis om haar nie hier op aarde te hê nie, sy was ’n wonderlike ma vir my en ’n onbeskryflike liefdevolle ouma vir Fabi,” het sy met trane in haar oë gesê.

Ans laat ook haar enigste suster, Marie Maree, agter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button