Die smaakvolle wêreld van kaas
Kaas - hetsy feta, gouda, of mozzarella - is vandag een van die gewildste southappies wat jy in bykans enige huishouding se yskas sal kry.
Die bestaan van kaas strek egter ongeveer 5 500 jaar terug, na Poland.
Marius Steenkamp, van Alpine Haven Homestead Artisan Cheese, het die Sarie-klublede op 19 April meer oor die bestaan en vervaardiging van kaas, sowel as dié van sy eie kaas, kom meedeel.
Die funksie het te Summer Place plaasgevind.
Steenkamp en sy vrou, Sylvia, boer met melkbokke en maak gebruik van hierdie bokmelk vir die vervaardiging van hul kaas.
Steenkamp vervaardig ook gereedskap vir kaasmakers.
In Suid-Afrika is daar vier erkende melkbok rasse – Saanen, Toggenburg, British Alpine en Bunte Deutsche Edelsiege.
Volgens Steenkamp word daar wêreldwyd meer bokmelk as beesmelk gebruik.
“Dit is net ons Suid-Afrikaners wat van kleintyd af geleer is om nie bokmelk te drink nie,” het hy gesê.
“Bokmelk is egter baie gesonder as beesmelk, want die kalsium opname is baie hoog. Die kalsium opname uit beesmelk is verskriklik laag.”
Steenkamp het vertel dat die basiese proses van die meeste kase wat in supermarkte te koop is, dieselfde is.
“Die verouderingsproses bepaal die spesifieke kaas wat gevorm word. Vir elke kaassoort gebruik ons spesifieke kulture,” het hy gesê.
Die meeste Amerikaanse kase wat geëet word, is glo geproseseerde kaas.
Steenkamp is van mening dat enige produk wat geproseseer is bestanddele bevat wat nie goed is vir ’n mens nie.
“Dit is vir my altyd baie interessant hoe mense die goedkoopste produk op die rak koop en nie eerder ’n bietjie meer betaal vir ’n produk wat hulle weet gesond is nie,” het hy gesê.
Kaas word in drie kategorieë ingedeel, naamlik artisanal, homestead en kommersieël.
Dan is daar ook die kombinasie artisanal homestead kaasmakers.
“Groot fabrieke maak die vervaardiging van kommersiële kaas baie maklik, soos Clover. Daar is ‘n hele paar maatskappye wat kaas op grootmaat vervaardig,” het Steenkamp gesê.
Die Steenkamps maak artisanal kaas, aangesien hulle met hul eie bokke boer en hul eie melk gebruik.
“Ek maak gebruik van ordentlike vars melk en maak die kaas op die ou manier,” het hy gesê.
Homestead beteken die kaasmaker, in dié geval, maak gebruik van sy eie melk.
Hy meen daar is egter artisan kaasmakers wat melk inkoop, dus staan hulle nie bekend as homestead kaasmakers nie.
Volgens Steenkamp is artisanal en homestead kaassoorte gewoonlik duurder as ander kaassoorte, want dit word van skoon melk gemaak.
“Die room van die melk wat gebruik word vir die vervaardiging van fabriek kase word uitgehaal en die die melk word gestandaardiseerd, met ander woorde suiker en stysel word bygevoeg,” het hy gesê.
Steenkamp het van sy kaas- en jogurtprodukte uitgestal om vir mense wat die geleentheid bygewoon het te gee, om daarvan te proe.
Die woorde “Mmm, dis heerlik” het oor-en-weer gegons.



