Local newsNews

Kitaarlesse bied ontsnapping vir New Beginnings se inwoners

Top 26 finalis in die Afri-Visie kompetisie, Nico de Beer, van Boksburg, het in November, verlede jaar, ’n program begin waar hy kitaarlesse vir kinders by New Beginnings aanbied.

Dit is iets wat hy al lank op die hart dra, maar hy het nooit daarby uitgekom nie, totdat een van sy kliënte toevallig aan hom genoem het dat hy by New Beginnings uithelp.

“Ek wou graag iets teruggee aan die gemeenskap en ’n program begin waar ek vir die jong mense daar [by New Beginnings] ’n lewensvaardigheid leer wat hulle vorentoe vir ontspanning kan gebruik en sommige van hulle moontlik ’n loopbaan daarvan kan maak, sou hulle wou,” het De Beer gesê.

“Ek het gedink dit kan ’n nice escape wees van hulle omstandighede.”

De Beer het bykans 20 kitare ingesamel nadat die musiekinstrumente van regoor die land en plaaslik ingestroom het.

Die meeste van die kitare is geskenk deur mense wat aan ’n Facebook groep, genaamd SA Music Store, behoort.

Dis ’n groep van ongeveer 12 000 lede landswyd wat hul instrumente koop of verkoop of ruil.

De Beer het ’n advertensie op die groep geplaas en gevra of enigiemand dalk sal bereid wees om uit te help.

“Die reaksie was oorweldigend, van mense wat kitare skenk tot mense wat aanbied om die kitare te diens,” het hy gesê.

“Dit is regtig ’n groep mense met groot harte. Ons het akoestiese en elektriese kitare ontvang en selfs ’n amplifier of twee.”

De Beer vertel dat die kitare nou die eiendom van New Beginnings is, solank dit gebruik word vir die huidige en toekomstige musiekprojekte.

Die program word weekliks op ’n Vrydagaand aangebied.

Tans is dit net De Beer en een van sy goeie studente wat die program aanbied, en daar is ook hulp van twee of drie persone van die sentrum wat toesig hou tydens die klasse.

Op dié stadium leer hulle net die tieners kitaar speel, maar hulle wil graag later die volwassenes wat belangstel ook help.

De Beer vertel dat daar reeds een of twee volwassenes is wat nou en dan die klasse bywoon.

“Van wat ek gesien het, is daar heelwat bywoners wat baie talent toon,” het hy gesê.

“Almal leer baie vinnig, veral as ‘n mens in ag neem dat dit ’n groep van ongeveer 21 leerlinge is wat op een slag lesse ontvang.

“Groepslesse is normaalweg bitter moeilik, want nie almal verstaan alles op dieselfde tyd nie, maar dié groep kom darem vinnig reg.

“Ek het al vir honderde klas gegee in my lewe en is regtig van mening dat hier groot dinge uit hierdie groep gaan kom.”

Met die laaste klas van 2015, op 18 Desember, het De Beer ’n Kerfeespartytjie vir die kinders gehou.

Tydens die party het De Beer al die kitare aan die kinders oorhandig, asook ’n splinternuwe paar skoolskoene vir elkeen.

Die skoene is geskenk deur Redemption Kerk, as deel van ’n Kersfees Uitreikingsprogram wat hulle onderneem het.

Wimpy, in Alberton, wat besit word deur van De Beer se kliënte (die Hopley-gesin) het al die kos en koeldrank vir die aand geskenk.

Daar was ook ’n professionele fotograaf (Captured by Kirst Photography) wat die aand se gebeure op kamera vasgevang het.

Dan was daar ook geskenkpakkies deur die De Beer-gesin opgemaak, met ’n klein geskenkie en lekkernye vir elkeen.

De Beer wil graag met die kitaarklasse uitbrei na kinderhuise, ouetehuise en ander skuilings.

“Ek glo musiek het die vermoë om genesing te bring, asook om die wêreld te verander, al is dit een mens op ’n slag,” het hy gesê.

“Sodra dit moontlik is, wil ek ’n nie-winsgewende organisasie begin, saam met ander musikante, om voltyds aan projekte soos hierdie te werk.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button