Nuwe rolprent – ’n Pawpaw vir my Darling – begin binnekort draai
’n Pawpaw vir my Darling speel af in 2003 en bied ’n blik op die lewe van die Beeslaer-familie van Frik du Preez Straat 24 in Damnville.
Hul lief en leed word gesien deur die oë van hul straatbrak en die hoofkarakter, Tsjaka.
’n Pawpaw Vir My Darling is oorspronklik ’n roman geskryf deur Jeanne Goosen en is vroeër jare deur die rolprentmaker Koos Roets, in ’n rolprent omskep.
Die Beeslaers is verteenwoordigend van die blanke Afrikaner wat post-1994 ’n eksistensiële verwarring beleef en ten spyte van goeie voornemens, telkens in ’n slaggat trap in hul pogings om aan te pas by ’n nuwe politieke bestel, ekonomiese uitdagings en sosiale kwessies.
Die rolprent raak aan die familie se verhouding met hul tuinwerker Cyril Phosa (Fezile Mpela), die polisieman Sersant Kennedy Banda (Dambuza Nqumashe) en Minah Naidoo (Roshila Jarosz), hul seun Elvis (Hannes Brümmer) se Indiër meisie.
Dis veral Soufie (Deirdre Wolhuter) wat sukkel om Cyril se voor-op-die-wa houding, Elvis se Indiër meisie en gay Rusty (Martelize Kolver) se meisie, Thalita (Hanlie Rolfes), te hanteer.
Die problematiek van werklose kinders wat by hul ouers inwoon word weerspieël in luigat Mabel (Jana Nortier) wat geen verantwoordelikheid vir haar situasie aanvaar nie, onrealistiese verwagtinge koester en verkies om haar voorkoms, familie en die nuwe politieke bestel vir haar probleme te blameer.
Vleis (Deon Lotz) en Soufie se verhouding is tipies van maats wat nie toegerus is om werklik mekaar se dieper emosionele pyn en behoeftes te verstaan nie en eerder ’n ‘tonic’ aandra wanneer ’n senu-ineenstorting dreig.
Die fliek word op 8 Januarie, 2016, landwyd deur Ster Kinekor Entertainment uitgereik.
Amptelike Lokprent:
Sosiale media skakels:
Facebook: https://www.facebook.com/Pawpawvirmydarling
Twitter: @PawpawMovie





