70 x 7: Liefde ís vir altyd
Willie en Lettie van Heerden het in die dertiger jare by die Witbank Volkspele vir die eerste keer oë op mekaar gelê en is sewe dekades later steeds onafskeidbaar.
In hul vroeë 20s, op 6 Oktober, 1945, het die paartjie die knoop deurgehaak en, 70 jaar later, kan hulle steeds nie ’n lewe sonder mekaar indink nie.
Tannie Lettie het op 12 September, haar 90ste verjaarsdag gevier en oom Willie word op 8 Oktober, 91 jaar oud.
Vandag spog die egpaar met drie seuns en drie dogters, 15 kleinkinders en 18 agter-kleinkinders.
Hulle vertel met trots dat hul kinders baie goed doen vir hulself en elkeen het glo hul loopbaan in die onderwys betree en vandaar hul vlerke gesprei.
Die paartjie koester hul jare van getroud wees.
Tannie Lettie vertel dat wanneer oom Willie Maandae oggende om 7nm van die biduur terugkeer, sy vir hom in die parkeerarea van die Cosmos Aftreeoord, waar hulle die afgelope 15 jaar in hul eie huisie woon, wag.
“Hy sal my dan soen-groet,” het sy gesê.
So diep is hul liefde dat oom Willie nog altyd tannie Lettie se hand vashou wanneer hulle by die kerk is.
Die Van Heerden-egpaar is byna ’n eeu in mekaar se lewens en het al hulle regmatige deel van sewe sakke sout gehad, maar het tog ook soveel mooi herinneringe.
In 1952 het die egpaar na ’n klein plaas in Vanderbijlpark verhuis.
Oom Willie het by Yskor gewerk, terwyl tannie Lettie die kinders en kuikens grootgemaak het en haar besig gehou het met ander dinge op die plaas, soos om botter voor te berei.
Oom Willie het ewe vertel hoe hy daardie jare met ’n trapfiets by die werk gekom het.
Volgens hom, het hy en tannie Lettie reeds vroeg in hul lewe die Here in hul huwelik vertrou.
“Alle eer gaan aan Hom, wat ons deur krisisse gedra en gebring het tot waar ons nou is,” het hy gesê.
Tannie Lettie het bygevoeg dat hulle elke aand huis-Godsdiens gehou het toe die kinders nog in die huis was.
“Ek glo dit het ’n groot impak op ons kinders se lewens gehad; dit is iets wat nie meer deesdae gebeur nie,” het sy vertel.
Oom Willie spog met een van die mooiste tuine in die aftree-oord, wat hy self versorg. Hy het tot onlangs ook sy eie groente gekweek, wat tannie Lettie vir hulle gaargemaak het.
Een van tannie Lettie se stokperdjies is borduurwerk, maar sy het dit ’n paar jaar gelede gestaak.
Wat is hierdie egpaar se wenresep vir ’n lang en gelukkige huwelik?
“Daar is nie raad nie,” het tannie Lettie gesê.
“Ons het al baie keer woorde gewissel, maar dit uitgepraat en op ons knieë gegaan met gebed. Vandag se kinders glo nie soos ons geglo het nie.”
“Ek het ’n goeie man gekry en hy ’n goeie vrou, anders sou ons dit nie gemaak het nie.”
Oom Willie het bygevoeg dat dit wel so is dat hy met ’n goeie en ’n mooi vrou getrou het, wat sommer vinnig aangepas het op die plaas.
Die Van Heerdens se kinders het ’n gesellige kuier op Saterdag, 3 Oktober, gereël, om die paartjie se
huweliksherdenking te vier. – @IschkeBoksburg





