Mosbolletjies maak harte, lyfies warm met donasie
Die Mosbolletjie-groep van die Witfield Hervormende Kerk het vanjaar hulself oortref, deur verlede jaar se winterbreiwerk getalle by verre verby te steek.
Ongeveer 232 truie, 150 mussies en barrette, 70 serpe, 66 slaapsokkies, 20 speelballe, en agt beertjies met pasgebore baba vessies, is vir die winter gebrei.
Op 20 Mei, het die Mosbolletjies ’n gedeelte van die breiwerk aan die Boksburg Laerskole Voedingskema oorhandig, en die ander gedeelte aan Salf (Sisters Assisting those Less Fortunate), ’n nie-winsgewende maatskappy wat minderbevoorregte gesinne aan die Oos-Rand bedien.
Vanjaar was die vierde keer dat die Boksburg Laerskole Voedingskema ’n winter donasie van die Mosbolletjies ontvang het.
“Die kinders is dankbaar vir hul truitjies; hulle wil dit die heeltyd dra en ook daarin slaap,” het Dolly Potgieter, van die Boksburg Laerskole Voedingskema, gesê.
“Dit beteken baie vir hulle, want dit is iets wat aan hulle gegee is.”
Salf fokus hoofsaaklik op die voeding, onderrig en medikasie van kinders.
Volgens Adéle Nel, van Salf, gaan hulle die truie vir kinders van behoeftige gesinne in die Bredell omgewing uitdeel.
“Ons is dankbaar vir die vrygewigheid van die vroue van die Mosbolletjie-groep en voel geïnspireer deur hul voorbeeld van betrokkenheid in die gemeenskap,” het Nel gesê.
“Waar ook al hierdie truitjie gaan, gaan dit ’n lyfie en ’n hartjie warm maak.”
Die Mosbolletjies se koördineerder, Alida Bekker, bedank die gemeenskap vir al die donasies wat hulle ontvang het.
Diegene wat ’n bydra wil tot die Mosbolletjie-groep wil lewer, of wil help, kan vir Alida by 011 826 3378 of by 083 542 7272 skakel. – @IschkeBoksburg





