MunicipalNews

Onbevoegdheid van werkers lei glo tot groot skade

Waardevolle portrette, belangrike dokumente en ander toerusting is vernietig toe modderwater in die stoorkamer en ’n gedeelte van die sitkamer van die Nels se woning, in Peacockstraat, Atlasville, ingestroom het.

Hierdie onsmaaklike insident het die nag van 20 Maart plaasgevind.

Die huiseienaars plaas die blaam vir die oorspoeling op metro-kontrakwerkers se nalatigheid toe hulle aan ‘n waterpyp gewerk het.

Norman Nel het eers die volgende dag besef dat water van ’n ondergrondse waterpyp op die sypaadjie besig is om in hul erf in te spuit.

Sy dogter, Chanttellé, het vroeër die aand (om ongeveer 10nm) lopende water gehoor, maar sy het niks vreemds gesien of vermoed nie.

Volgens Wyk 23 DA raadslid André du Plessis, het metro-kontrakwerkers op 19 Maart aan die pype gewerk en dit nie ordentlik gelas nie.

“Om die pyp voldoende te herstel, moes hulle eers die modderwater uit die gat pomp,” het du Plessis gesê.

“Die water is egter in die erf in gepomp en nie in die straat nie.

“Die stadsraad stel onbevoegde en onbekwame kontrakteurs aan om die werk te doen.”

Die stadsraad het glo ook heeldag op 20 Maart Atlasville se water afgesny, sonder om die inwoners in te lig.

Volgens Beatrix Nel was die water in die stoorkamer bykans enkeldiepte.

Die meerderheid van die water is darem deur die stoorkamer se dreineersisteem verwyder.

“Dit is onregverdig. Nou moet ons met hulle gemors sit, omdat die metro nie hul werk ordentlik kan doen nie,” het Beatrix gesê.

“Wie gaan verantwoordelikheid vat vir hierdie gemors?

“Portrette wat ek by my ouma geërf het is deur die water verwoes. Dit is onvervangbaar en duur.”

Die portette is, onder andere, gedenkstukke oor die moord op Piet Retief en die slag by Bloedrivier.

Vir Beatrix gaan dit oor die sentimentele waarde wat sy aan die portrette heg.

Volgens du Plessis het die stadsraad reeds in Januarie, verlede jaar, ’n kontrakteur aangestel om die waterpype in Atlasville op te gradeer.

In Oktober 2014, het du Plessis’n aantal vrae rondom hierdie projek aan die stadsraad gerig.

“Die projek was veronderstel om in Junie voltooi te wees, maar is in Augustus gestaak,” het hy gesê.

’n Nuwe kontrakteur moes, volgens hom, die taak voortsit.

“Volgens die stadsraad het die proses om ’n nuwe kontrakteur aan te stel veroorsaak dat die projek tot stilstand gekom het,” het hy verduidelik.

Verskeie kontrakteurs het al aan die projek gewerk.

“Ons as raadslede en Atlasville inwoners is raadop; ek kla op ’n gereelde basis by die departementshoof om die projek te voltooi,” het hy gesê.

Die nuwe datum wanneer dit verwag is dat die pyplyn-projek voltooi sal wees, is Junie 2015. – @IschkeBoksburg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button