Só sê Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep, wat op 19 Augustus, 84-jaar-oud geword het.
“Ons het die afgelope jaar groot groei beleef, en bly ’n unieke burgerlike organisasie, nie net binne die Suid-Afrikaanse konteks nie, maar ook in die wêreld.
“Die ATKV het bewys ons kan suksesvol aanpas by nuwe uitdagings en omstandighede.”
Volgens Gouws is die suksesvolle sake-afdeling en altyd groeiende ledetal net nog ’n bewys dat die Afrikaanse gemeenskap beskik oor die kundigheid en die wil om positief tot Suid-Afrika by te dra.
“In 2014 word die organisasie wyd erken as ’n gerekende en onmisbare vennoot in die Suid-Afrikaanse samelewing.”
Gouws meen die organisasie het nie net die afgelope vyf jaar goeie finansiële resultate opgelewer nie, maar ’n uitstekende impak gemaak ten opsigte van taal en kultuur, sy hoofbesigheid.
“Ons omset het die afgelope vyf jaar met 41 persent toegneem, en die wins voor belasting met 92 persent.
“Opgeloopte fondse en reserwes is nou bykans 37 persent meer as vyf jaar gelede.
“Die ATKV se kultuurafdeling het in die vyf jaar R285-miljoen spandeer in die uitvoering van sy visie en missie deur middel van projekte en ander aktiwiteite.”
’n Besluit van die ATKV-direksie vyf-jaar gelede, om die organisasie te diversifiseer ten einde volhoubaarheid te verseker, werp goeie vrugte af.
“Vyf jaar gelede is ATKV-Eiland Spa, die sewende oord, aangekoop en as ’n winsgewende en gewilde oord gevestig. Al die ATKV-oorde word winsgewend bedryf en dra by tot die maatskappy se goeie finansiële posisie.
“Die direksie het vyf-jaar gelede besluit dat die ATKV die aftreebehuisingsmark moet betree en Negester Onrusrivier, ons eerste aftree-ontwikkeling, sal teen die einde van 2014 operasioneel wees.”
Infrastruktuurontwikkeling by Negester Klein-Kariba begin eersdaags.
Daar is ook besluit om die sakegedeelte van die ATKV se Hartenbos-vakansieoord te herontwikkel.
Die hoofdoel van die ATKV bly, volgens Gouws, egter steeds taal en kultuur, met die hooffokus op taal, die kunste, gemeenskappe en onderwys.
Hy het gesê die omvang van die impak van die ATKV se kultuurafdeling het die afgelope vyf jaar verdubbel.
“Nie net is nuwe fokus op die Afrikaanse taal in die meer inklusiewe sin van die woord geplaas nie, maar die ATKV het ook begin fokus op die minder funksionele skole in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel.”
Die oudste van die ATKV se projekte is die ATKV-tienertoneel, wat nou 50-jaar-oud is, en skole-deelname daaraan het die afgelope vyf jaar met meer as 60 persent gestyg.
Die ATKV is ook baie bekend vir sy kore-kompetisies en deelname het van 6 600 deelnemers vyf-jaar gelede gestyg tot 20 000 die afgelope jaar.
Die baie gewilde ATKV-rieldanskompetisie het die afgelope jaar 110 senior en junior deelnemende spanne opgelewer, teenoor slegs 18 senior spanne in 2009.
“Die organisasie se studente-aktiwiteite betrek jaarliks ongeveer 60 000 mense, dubbel die getal van vyf jaar gelede.”
Wat onderwys betref, het die ATKV twee jaar gelede ’n onderwysfokus van stapel gestuur.
“Die afgelope jaar was die organisasie by ongeveer 100 minder funksionele skole betrokke.”
Meer as 5 000 ouers, onderwysers en leerders is betrek.
Gouws sê die ATKV is goed geposisioneer, danksy die suksesse en groei in veral die afgelope vyf jaar.
Dis ook ‘n belangrike rede vir die erkenning wat die organisasie geniet.
“Die ATKV is bekend as die inklusiefste Afrikaanse kultuurorganisasie, en die voortsetting van die ATKV se kultuurstrategie is in plek om dié posisie te kan handhaaf.
“Die sake-afdeling is goed geposisioneer en staan aan die vooraand van belangrike nuwe ontwikkelings.
“Die lojale ledebasis is verbind, nie alleenlik tot die kultuurdoelwitte van die organisasie nie, maar ook tot sy rol as deurlopende klantbasis van die vakansie-oordfasiliteite, ” meen Gouws.
“Die ATKV het die toets van die tyd deurstaan en is gereed om die toekoms met selfvertroue aan te pak.” – @IschkeBoksburg



