Editor's choiceLocal newsNews

Sanral moet oop kaarte speel oor skuld

Met die toekoms van die Gautengse tolpadstelsel toenemend onseker, is dit nou tyd vir Sanral om oop kaarte te speel oor presies hoeveel hy skuld vir die opgradering van die provinsie se paaie-infrastruktuur

Dit is volgens die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer, adv Anton Alberts.

Alberts sê daar moet ’n deeglike herberaming van die genoemde skuld van sowat R20-miljard gemaak word na die bevinding van die Mededingingstribunaal dat daar samespanning tussen van die land se grootste konstruksiemaatskappye was met die bou van onder meer die tolpadstelsel.

“Die tribunaal het tot op datum reeds 28 eisesertifikate aan Sanral toegeken vir werk wat deur verskeie konstruksiemaatskappye gedoen is.

“Sanral het dit enkele maande gelede bevestig en het in ’n mediaverklaring gesê hy werk tans saam met kundiges om vas te stel wat die bedrae ter sprake is en presies hoeveel hy van die maatskappye kan terugeis.”

Volgens Alberts is dit van die ‘grootste belang’ dat hierdie proses deursigtig is, aangesien Sanral se skuld direk van padgebruikers verhaal moet word.

“Indien ag geslaan word op die uitsprake verlede week van Gauteng se premier, David Makhura, kan Sanral se skuld moontlik in die vorm van ’n spesiale landwye heffing in die plek van E-tol van motoriste verhaal word.

Alberts beweer die VF Plus sal seker maak dat Sanral eerlik is oor hierdie skuld, aangesien die publiek dit eindelik moet betaal.

“Die proses om geld terug te verhaal van konstruksiemaatskappye wat by die knoeiery betrek is, moet ook spoedig afgehandel word en stappe moet geneem word om die persone wat hierby betrokke was, strafregtelik aan te kla.”

“Die bedrag wat betrokke is by die korrupsie wat landwyd tussen die maatskappye gepleeg is en wat wissel van die Groenpunt-stadion tot die Gautengse tolstelsel, is waarskynlik ongeëwenaard in Suid-Afrika.”

Volgens Alberts, behels byna die helfte daarvan projekte aan paaie en dit kan ’n beduidende verskil maak aan Sanral se skuld. – @IschkeBoksburg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button