Waaghalse wil huidige vuurtonnelrekord verbeter
Twee avontuurlustige waaghalse gaan poog om hul huidige Guinness Wêreld rekord van 103.09 meter te verbeter en per motorfiets deur ’n 120m vuurtonnel te jaag by die Rhino Rally in Parys, Vrystaat, op 5 September.
Al die organiseerders het reeds in Junie by Malherbe Rigg and Ranwell Prokureurs bymekaar gekom om die finale reëlings vir hierdie toertjie te bevestig en sowel die sukses en veiligheid daarvan te verseker.
Boksburg inwoner, Enrico Schoeman en André de Kok, is die twee waghalse wat hierdie toertjie gaan aanpak.
Volgens Schoeman was die professionele toertjie ruiter, Clint Ewing, onsuksesvol toe hy verlede jaar in Amerika hul huidige rekord wou breek en probeer om deur ’n vuurtonnel van 110m lank te ry.
Die motorfiets waarmee Schoeman en de Kok hierdie toertjie gaan uitvoer is pienk, ter bewusmaking van kanker.
Schoeman vertel dat hulle nie vooraf die toertjie oefen nie, maar slegs daardie een kans het.
“Die motorfiets moet net reg loop,” sê Schoeman.
Die hoogte van die tonnel is twee meter. Ongeveer 500-lt diesel en brandstof sal onderskeidelik gebruik word om die tonnel aan die brand te steek.
Die hoogte van die vlamme gaan ongeveer vyf meter tot die hemele strek.

“Die hele tonnel binne gaan vol vlamme wees sodat jy nie eers amper die pad kan sien nie,” sê Schoeman.
Met die vorige rekord van 103.09m het Schoeman ongeveer 50km/h gery en die toertjie binne 7.5 sekondes voltooi.
“Ons heel eerste poging om deur ‘n tonnel van 73m te jaag het ons stadiger teen 8.5 sekondes gery.
“Omdat die vuur so warm was met die 103.09 meter tonnel, het die staal begin buig so ek moes bietjie vinniger deur hom ry.”
Schoeman reken dat hulle vir ongeveer 12 sekondes deur die 120 meter tonnel sal ry.
“Ek gaan maar die toestande dophou – as ek voor die tonnel staan, moet ons baie vinning oor spoed en al die veilige aspekte besluit.” – @IschkeBoksburg




One Comment