Local newsNews

Pravin Gordhan sit tussen twee vure – VF Plus

Minister Pravin Gordhan se begrotingstoespraak moet as deel van die ANC se verkiesingsveldtog beoordeel word.

So sê VF-Plus leier, Pieter Mulder.

Mulder beweer Gordhan het oor die verlede gespog en baie geld uitgedeel in ’n duidelike poging om ’n positiewe klimaat vir kiesers voor die verkiesing te probeer skep.

Volgens Mulder gaan die werklike toets lê in die beoordeling van die kredietgraderingsmaatskappye wat die detail van die begroting sal bestudeer.

“Hulle sal bepaal of hy daarin geslaag het om, tussen die gelduitdeelbeloftes deur, die fiskale dissipline wat die land nodig het, te behou.

“Suid-Afrika het ’n groeikoers van vyf persent nodig om genoeg werk te skep en uit die ekonomiese moeilikheid te kom.

“Gordhan het ’n groeikoers van drie persent voorspel en moes toegee dat dit slegs 2.7 persent vanjaar gaan wees.

“Dit terwyl die groeikoers in Afrika gemiddeld tot ses persent is.

“Duidelik skort iets groots in die Suid-Afrikaanse ekonomie en moet die minister die fout by die arbeidsonrus en onbuigsame arbeidswette gaan soek,” sê Mulder.

“Die VF Plus verwelkom die maatreëls wat aangekondig is om die vestiging van klein- en medium-sakeondernemings te bevorder.

“Hierdie ondernemings kan tot 60 persent van alle nuwe werksgeleenthede skep as hulle nie deur onbuigbare arbeidswette en rompslomp verhinder word nie.

“Volgens die ANC is tot R179-miljard nodig om die nuwe grondeise wat nou verwag word, te finansier.

“Die ongeveer R7-miljard wat vir grondhervorming begroot word, is heeltemal te min daarvoor.

“Dit bevestig die VF Plus se kritiek dat hier verwagting gewek word wat nie nagekom kan word nie.

“Dit is die tipe besluite wat later tot gewelddadige protes lei.”

Volgens Mulder is dit belangrik dat die belastingbasis verbreed moet word, aangesien sowat drie miljoen mense tans sowat 96 persent van die belasting betaal terwyl daar 51-miljoen mense in die land is.

“Geen pogings om hierin te slaag nie, is aangekondig.

“Dit skep ’n onhoudbare situasie waar hierdie belastingbetalers voos belas word en die ekonomie nie groei nie,” verduidelik Mulder.

“Ek sal die minister ’n punt van sewe uit tien vir die jaar se werk gee, maar sal soos die juffrou op sy rapport skryf: “Jannie kom uit baie moeilike huislike omstandighede. Hy presteer goed as jy dink waar hy vandaan kom met kollegas wat geld mors en vakbonde wat droogmaak.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button