Local newsNews

Helpende Hand gee raad oor vak- en studiekeuses

’n Onlangse werknemersindeks het beklemtoon dat korrekte vak- en studiekeuses onmisbaar is om finansiële vryheid te verseker.

Volgens die Adcorp-werknemersindeks is daar tans ongeveer 344 000 Suid-Afrikaners met grade, diplomas en sertifikate wat werkloos is, omdat hulle nie oor die vaardighede beskik waarna werkgewers soek nie.

Verder toon die verslag dat die getal afleggings in Januarie die hoogste was wat dit in 10 jaar was, met 36 290 Suid-Afrikaners wat hul werk kwyt is.

Boonop is daar verlede maand slegs poste geskep vir hoëvlak-gekwalifiseerde personeel en is daar tans ongeveer 470 000 vakante poste in die privaat sektor wat gevul kon word indien die vaardighede daar was.

“Nog nooit was dit meer noodsaaklik vir leerlinge om ’n ingeligte besluit te neem wanneer hulle hul vakkeuses op skool maak nie,” sê Solidariteit Helpende Hand adjunk uitvoerende hoof van onderwys en opleiding, Riaan du Plooy.

“Verkeerde vakkeuses kan beteken dat matrikulante nie na skool aanvaar word vir hoëvlakstudierigtings nie, en dat hulle dan op die ou end sit met ’n tersiêre kwalifikasie wat nie in die huidige beroepsmark bruikbaar is nie.”

Solidariteit Helpende Hand se beroepsvoorligtingsprogram fokus op hierdie probleem deur aan Afrikaanse jongmense regoor die land, ’n bekostigbare beroepsleidingdiens ten opsigte van vakkeuses en beroepskeuses te bied.

“Omdat Solidariteit Helpende Hand die onmisbare waarde van professionele loopbaanvoorligting deur psigometriese toetse, aanlegtoetse en breinprofiel-evaluering besef, bied ons hierdie diens aan hoërskoolleerders teen ’n fraksie van die prys wat in die privaatsektor gevra word,” sê Solidariteit Helpende Hand mediaskakelbeampte, Marinè Jacobs.

Du Plooy noem dat tersiêre opleiding geweldig duur is, daarom maak dit sin om in professionele loopbaanvoorligting deur psigometriese en aanlegtoetse te belê.

Verskeie pakkette is beskikbaar en Helpende Hand se voltydse, geregistreerde psigometris sal gratis na ’n dorp reis, mits daar 10 of meer jongmense is wat van die diens gebruik wil maak.

Sodoende kan Helpende Hand hierdie diens aan leerlinge bied wat dit andersins nie sou kon bekostig nie.

Volgens Jacobs het hulle verlede jaar 109 leerders vir psigometriese toetse gehad – dit is dus ongeveer nege leerders per maand.

Die beroepsleiding sluit ’n informele gesprek met die ouers en leerling, die evaluering self en ’n professionele verslag na afloop daarvan in.

Vir meer inligting kontak Marine Jacobs by 012 644 4390 of epos marine@helpendehand.co.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button