Onprakties en onuitvoerbaar om elke oop spasie te sny
Kriminele- en onaanvaarbare gedrag is na bewering skaamteloos besig om geleidelik toe te neem in Akker Straat, Van Dyk Park.

Die oorgroeide veld in hierdie straat blyk die grootste probleem te wees.
Sedert die somer aangebreek het, is die gras blykbaar nog nie gesny nie.
Die veld is al vantevore deur kriminele as ’n skuilplek gebruik en ten spyte van die “No Dumping” teken, word dit nogsteeds as ’n stortingsterrein gebruik.
Die Ekhurhuleni metro woordvoerder, Themba Gadebe, sê: “In oorstemming met beleid en begrotingshulpbronne, word ’n strook op ’n geskeduleerde, gereelde basis om die kante van die oop spasie in Akker Straat gesny.
“Dit is onprakties en onuitvoerbaar vir Ekhurhuleni Metropool Munisipaliteit om elke oop spasie rondom die stad in sy geheel te sny, vandaar die beleid wat voorsiening maak vir slegs spesifieke aksie.”
“Aangaande die rommelstorting, sal hierdie saak dienooreenkomstig aandag aan geskenk word.”
“Ons wil ook graag beklemtoon dat rommelstorting slegs beheer kan word wanneer inwoners in ’n gemeenskap voorvalle aktief rapporteer soos dit gebeur, want dit is moontlik dat die oortreder(s) in die area woon en selfs bekend kan wees aan die omliggende inwoners.”
Volgens ’n inwoner help dit nie om ’n strook aan die kante van die veld te sny nie, want dit verhoed nie onaanvaarbare optredes om binne die veld plaas te vind nie.



