Wees op die uitkyk vir dwelms en jou kind
Die Vryheidsfront Plus Jeug in Gauteng doen ‘n beroep op ouers en onderwysers om op die uitkyk te wees vir dwelmgebruik onder leerders.

“Dwelmhandelaars infiltreer ons skole,” sê Jean Kriek, VF Plus jeugleier in Gauteng.
“Onderwysers, skoolhoofde, ouers en leerders moet die SAPD onmiddellik in kennis stel indien hulle vermoed dat ‘n dwelmnetwerk op die skoolgronde handel dryf.
“Indien dit vorendag kom dat leerlinge wel aan dwelms verslaaf is, moet die leerder op ‘n sensitiewe wyse die nodige hulp kry.”
Kriek voeg by dat voorsorg beter as nasorg is, en dat dit vir skole en die gemeenskap voordelig sal wees as daar werkswinkels oor die gevare van dwelms by skole gehou word.
Ouers moet ook hierby betrek word, sodat hulle weet wat die gevaartekens van dwelms is.
Kriek noem verder dat die VF Plus Jeug in Gauteng ‘n beroep op die provinsiale regering doen om die dwelmbestrydingseenheid weer terug te bring.
“Dwelms onder ons jongmense is so vernietigend dat drastiese stappe geneem moet word om ons jongmense se lewens te red,” sê hy.
“Die stryd teen dwelms is die een saak waaroor alle politieke partye en ander belangegroepe kan verenig.”



